RIVERSDAL NUUS - Vinniger en meer stabiele toegang tot die internet wink vir Riversdal met die uitrol van 'n veselaanleg wat tans plaasvind.
Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir Hessequa-munisipaliteit het Maandag, 21 September gesê die munisipaliteit het 'reg van toegang' goedkeuring aan die provinsiale-regering verleen, asook diensverskaffers uit die privaatsektor vir die uitrol van die veselkabels.
"Daar word verwag dat verskaffers eersdaags vinniger internet via vesel aan die publiek beskikbaar sal stel. Tot op hede is slegs aansoeke vir Riversdal ontvang vir die vesel se uitrol," verduidelik Budricks.
Sy sê as deel van die provinsiale inisiatief sal gratis toegang aan staatsdepartemente, soos skole, klinieke, polisie, howe, biblioteke, veeldoelsentrums, soos Thusong en die munisipaliteit, asook op aangewese plekke aan die publiek beskikbaar gestel word.
Die koppeling van staatsdepartemente word ten volle deur provinsiale regering befonds.
Vir die provinsiale regering tree Liquid Telecom as kontrakteur op, terwyl Herotel privaataansoeke hanteer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'