Update
HESSEQUA NUUS - Dringende ingryping deur die regering is nodig om die brandstofprys te verlaag, want miljoene Suid-Afrikaners leef ver onder die broodlyn en kan nie meer oorleef nie.
Die perfekte storm is aan die broei met die nagevolge van Covid-19, die oorlog in Oekraïne en talle natuurrampe wêreldwyd.
Dit volg op die skokkende voorspelling dat die brandstofprys in Julie tot meer as R27 per liter kan styg.
Volgens die Automobiel Assosiasie (AA) sal Suid-Afrika se petrolprysstruktuur dringend hersien moet word veral in die lig van nog 'n dreigende rekordverhoging wat vir Julie voorspel word.
Die Sentrale Energiefonds het met sy jongste middel-maand-voorspelling gesê dat 'n verhoging van R1,98 per liter vir 95-loodvrye petrol verwag kan word. Vir 93-loodvrye petrol kan die verhoging R1,81 per liter beloop en vir diesel tussen R1,43 en R1,44 per liter.
Alhoewel dit net 'n voorspelling is, sal die finale opname die prys van petrol na verwagting tot meer as R27 per liter in die binneland opstoot.
Teen die einde van die jaar kan die prys opskiet tot R30 of meer per liter.
Staatsbelasting staan tans op 33% van die brandstofprys.
Arm gesinne bestee die grootste deel van hulle inkomste aan vervoer en voedsel en 'n verlaging in die prys van brandstof sal help om miljoene uit armoede te lig. Dit moet egter 'n wesentlike verligting wees en nie net die tydelike R1,50 wat die laaste paar maande gegeld het nie.
Motoriste word aangemoedig om onnodige ritte te vermy, eerder saamrygeleenthede te benut om brandstof te bespaar en waar moontlik openbare vervoer te gebruik.
Trek die gordel dus stywer vas en wees kreatief met besparings in en om jou huis.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'