HEIDELBERG NUUS - Die Covid-19-regulasie dat inwoners nie op straat tussen 20:00 en 05:00 mag wees nie, het skynbaar 'n nadelige invloed op misdaad omdat inbrake in dié dorp begin toeneem.
Twee mans van die dorp is Saterdagmiddag 2 Mei in hegtenis geneem nadat hulle glo by die skouterrein se kroeg ingebreek en nagenoeg R2 500 se drank gesteel het. Die inbraak het die vorige aand ongeveer 19:30 plaasgevind.
Die mans, onderskeidelik 32 en 29 jaar oud is aangekeer na hulle op video geïdentifiseer is. Hulle is op waarskuwing vrygelaat en moet op 9 Julie in die hof op aanklag van inbraak met die opset om te steel en diefstal in die plaaslike hof verskyn.
Laat Saterdagaand is twee broers, onderskeidelik 28 en 19 jaar oud in Burnsstraat in hegtenis geneem met vier teer heiningpale in hul besit. Dit is blykbaar by Sentraal-Suid Koöperasie se stoor in Eksteenstraat gesteel. Volgens die ondersoekbeampte, sers. Whitey Solomon is die waarde van die pale ongeveer R650. Hulle is ook op waarskuwing vrygelaat en moet weer in Julie in die plaaslike hof verskyn.
Volgens Solomon is daar ook op Slangrivier en by 'n huis in Louwstraat in die dorp ingebreek. Hy doen 'n dringende beroep op enigiemand met inligting wat kan lei tot die opsporing of arrestasie en skuldigbevinding van persone wat hulle aan die soort misdaad skuldig maak. Alle inligting sal vertroulik gehanteer word en 'n beloning is betrokke.
Die plaaslike speurtak kan by 028 722 8200 of 028 722 1910 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'