HESSEQUA NUUS - Die Garden Route DBV het vyf honde en drie katte van ’n gewisse dood gered tydens die brande wat die afgelope paar dae gewoed het.
Mariska Jacobs, inspekteur van die Mosselbaai-tak doen ’n ernstige beroep op die gemeenskap om hulle noodnommer, 072 287 1761 te skakel indien hul huise bedreig word en hulle gaan ontruim, sodat hulle die diere in veilige bewaring kan plaas.
“Veral die diere wat aan kettings staan kan nêrens heen vlug nie,” sê sy. “Moenie die diere in huise toesluit nie, diere gaan dood van rookinaseming en kan ook doodbrand indien die huis sou brand.”
Jacobs noem dat hoewel Riversdal buite hul gebied is, reageer hulle op enige navraag naaste aan hul Mosselbaai- of selfs George-takke waar daar nood is. Hulle werk ook in Albertinia en verskaf diens 24 uur per dag, met ’n inspekteur aan diens deur die nag.
Die brand het vanoggend weer in die suidoostelike vuurlyn by die eiendom van Koos Malan, Blombospad opgevlam. Geen verdere inligting hieroor was beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'