Update
RIVERSDAL NUUS - Na verwagting sal dit minstens nog 'n jaar duur voor die wet oor die besit, kweek en gebruik van dagga uitgeklaar is.
'n Jaar na die aankondiging deur regter Raymond Zondo oor die wettiging van die aanplant van dagga vir persoonlike gebruik, heers daar steeds verwarring oor die kwessie.
"Die saak van dagga en hennep (hemp) is een wat baie aandag trek en ons word oorval met mense wat inligting soek," het dr. Ilse Trautman, hoofdirekteur: navorsing en tegnologie van die Wes-Kaap departement van landbou by navraag gesê.
"Daar is medisinale dagga waarvan gebruik vir persoonlike doeleiendes nou blyk gewettig te wees. Vir kommersiële verbouing van medisinale dagga is lisensies nodig. Vir hennep vir veselsoeleindes is ook lisensies nodig wat tans slegs vir navorsingsdoeleindes uitgereik word.
"Dié veselsoort het 'n baie lae inhoud van die substans wat die 'dagga/narkotiese effek' veroorsaak. Dit kom daarop neer dat dit nasionaal gereguleer word en ons as departement kan nie lisensies uitreik of aanplantings goedkeur nie."
Trautman het Suid-Kaap Forum ook verwys na die South African Health Products Authority (SAHPRA). Vogens Ramarumo Chepape word permitte vir die kweek van medisinale dagga vir kommërsiele doeleindes uitgereik, maar omdat die reëls baie streng is, is sedert 2017 nog slegs vyf lisensies uitgereik.
Permitte vir die kweek van hennep word ook gereguleer en slegs vir navorsingsdoeleindes deur SAHPRA uitgereik. "Nog geen kommersiële permitte is uitgereik nie en SAHPRA werk nou saam met die nasionale Departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) in die verband," sê Chepape.
Volgens hom is navorsingspermitte in die Wes-Kaap uitgereik en werk is onder streng beheer deur die Landbounavorsingsraad by die departement se Elsenburg- en Outeniqua-navorsingsplase gedoen.
DAFF het vroeër gesê die verbouing van hennep vir vesel op industriële skaal kan vir 'feitlik enigiets' gebruik word en dat dit in die VSA sowat 100 000 nuwe werksgeleenthede geskep het.
Volgens die departement lê die gebruik van dagga by die gesondheidsdepartement ingevolge die wet op medisyne en verwante stowwe van 1965 en die departement van justisie ingevolge die wet op dwelms en dwelmhandel van 1992.
Nadia Ferreira, woordvoerder vir Wes-Kaap gesondheidsdepartement, het by navraag gesê die departement oorweeg nie in hierdie stadium die gebruik van dagga vir medisinale doeleindes nie.
Intussen is dit dus maar beter om jou dampie in die privaatheid van jou eie huis te geniet en nie nou al vir jou 'n plantasie in jou agterplaas aan te lê nie.
Lees 'n vorige artikel: Moenie jou dampie deel nie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'