Update
RIVERSDAL NUUS - Honde in hoofsaaklik die groter Riversdal-distrik loop onder hokhoes (kennel cough) deur en verskeie is al by die plaaslike dierekliniek hiervoor behandel.
Gevalle van hokhoes is ook in Heidelberg aangeteken, maar in die res van Hessequa het dié minder bekende hondesiekte nog nie sy kloue ingeslaan nie.
Dr. Tina Kaldenberg, 'n veearts by die Riversdal Dierekliniek, het aan Suid-Kaap Forum gesê hoewel hokhoes hoogs aansteeklik is, is dit maklik behandelbaar en nie dodelik nie.
Hokhoes is druppeloordraagbaar en word deur die lug en ook waar honde direkte kontak maak (neuse teen mekaar druk) oorgedra. Hulle kan aansteek by besoedelde oppervlaktes optel, insluitende water- en kosbakke, en waar daar 'n groot konsentrasie van honde bymekaar is, soos by hondehotelle, dagsorgklinieke, hondeparke, oefengroepe en by hondeskoue.
Kaldenberg sê dit word aanbeveel dat die honde ondersoek word vir sekondêre infeksies.
Dan kan antibiotika en hoesmedisyne deur die veearts voorgeskryf word. Met genoegsame rus en deur jou hond warm te hou, kan hokhoes redelik maklik behandel word. "Ligte gevalle van hokhoes kan met genoeg rus binne 'n week of twee suksesvol behandel word.
"Dit is nie fataal as jou hond dit opdoen nie, maar indien die simptome, soos 'n kwaai hoes, vererger moet jy dadelik by 'n veearts uitkom. Dié siekte kan oorgaan in longontsteking."
Dis hoofsaaklik honde met swak imuunstelsels soos baie jong hondjies, ou diere en diere en diere wat ander siektes onderlede het wat erg deur hokhoes geraak word.
Simptome van hokhoes
- 'n Kwaai, droë hoes
- Niesbuie
- Lusteloosheid
- Verlies aan aptyt; en
- Lae koors.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'