HESSEQUA NUUS - Met elektrisiteitstariewe wat al duurder word, raak dit meer en meer belangriker om krag te begin bespaar.
Eindgebruikers kry swaar met die hoë kragtariewe en koop al minder krag aan, wat veroorsaak dat Eskom, wat eens die goedkoopste en beste kragverskaffer ter wêreld was, nie genoeg inkomste uit kragverbruik kry om sy kostes te dek nie.
Eskom verskaf krag aan Hessequa-munisipaliteit teen 'n vasgestelde tarief wat deur 'n formule bereken en deur die nasionale elektrisiteitsreguleerder van SA (Nersa) goedgekeur moet word. Die munisipaliteit is dan wetlik verplig om krag aan die dorp se inwoners te verskaf, ook teen 'n tarief wat deur 'n formule bepaal en deur Nersa goedgekeur is.
Slegs plase word direk deur Eskom van krag voorsien, wat baie duurder is omdat plaaseienaars bo en behalwe hul kragverbruik ook ekstra vir lynfooie moet betaal.
Buiten korrupsie, veroorsaak onwettige aansluitings en kragdiefstal dat Eskom baie geld verloor, wat ook bydra dat verbruikers duurder vir krag moet opdok. Inwoners word versoek om onwettige aansluitings aan die polisie te rapporteer.
Twee keuses
Eindgebruikers het twee keuses om krag aan te koop, naamlik konvensionele meters en voorafbetaalde krag, met beide metodes wat presies dieselfde bedrag per kwh betaal. Met eersgenoemde kry jy 'n maandelikse rekening vir krag wat gedurende die maand voorsien was.
Met hierdie keuse kan jy nie altyd vooruit bepaal wat jou rekening vir die maand gaan wees nie en kom dit soms as 'n skok.
Met voorafbetaalde krag is dit makliker om 'n kosteberaming te maak en kan 'n gesin aan die begin van die maand soveel krag aankoop as wat hulle beplan om te gebruik. Hessequa-munisipaliteit hef egter 'n vaste basiese fooi en eenheidskoste, maar per aankope.
Dié diensfooi kan op 'n daaglikse (R9.58) of eenmalige maandelikse bedrag (R291.50) betaal word. Die konvensionele meters het ook 'n diensfooi wat meer is as koop krag.
Kragtariewe
Inligting wat deur die plaaslike munisipaliteit verskaf is, meld dat kragverkope volgens 'n bloktarief of glyskaal werk, dus - hoe meer krag jy verbruik, hoe duurder word die tarief per kwh.
Die struktuur van die elektrisiteitstariewe, soos deur Nersa goedgekeur, bestaan uit 'n vaste basiese fooi en eenheidkoste wat in vier blokke ingedeel is ((33-60 Ampere): Blok 1: 0 - 50kWh (R1.45 per kwh); blok 2: 51 - 350kWh ( R1.84 per kwh); blok 3: 351 - 600kWh (R2.61 per kwh) en blok 4: >600kWh (R3.08 per kwh).
Besighede betaal R2.27 per kWh, ongeag hoeveel krag hulle gebruik.
Die impak van energieverbruik word nie slegs bepaal deur die getal eenhede (watts) wat verbruik word nie, maar ook deur die tydsduur van die verbruik. Selfs al verbruik 'n toestel min energie, kan dit oor die langtermyn 'n groot invloed op energieverbruik hê.
Elektriese verbruike word nie op verskillende tye gemeet en gehef nie, maar word eenmalig op grond van die voormelde tariefstruktuur maandeliks gehef en per rekening aan die verbruiker gestuur vir betaling.
Tarief bly dieselfde
Volgens die munisipaliteit bly die tarief deurgaans dieselfde, maak nie saak watter tyd van die maand jy krag koop nie. Dit geld ook vir alle tye van die dag en is nie duurder in peak tye nie, maar ook nie goedkoper na-ure nie.
Deernishulpverbruikers is kwytgeskeld vir die betaling van die vaste basiese elektrisiteitsfooie en ontvang die eerste 50 kWh eenhede gratis per maand.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Tuinroete nuus'