RIVERSDAL NUUS - Niel van Wyk het die historiese bergpasse van die Suid-Kaap tydens die plaaslike tuinbouklub se jaarlikse braai toegelig.
Van Wyk, wat hier gebore is en grootgeword het, het aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer.
Na voltooiing van sy universiteitstudies was hy 30 jaar lank in diens van Kaap Natuurbewaring, vandag as CapeNature bekend.
Daar het hy as navorser begin en in die topbestuur geëindig. Na sy aftrede het hy en 'n vennoot hul eie media- en skakelmaatskappy bedryf.
Hy het in 2014 na Stilbaai verhuis waar hy by omgewingsaangeleenthede betrokke geraak het en tans op Hessequa en CapeNature se advieskomitee dien.
Van Wyk se navorsing oor die geskiedenis van die dorp en omgewing het hom na die oudste plaas gelei, wat hom op die ou Plattekloofpas in die Langeberge laat afkom het. Mettertyd het sy kennis van dié pas uitgebrei tot hy vandag die geskiedenis van al die ou passe ken en ondernemend daaroor kan vertel.
Na die praatjie was daar heelwat belangstelling onder lede om 'n toer van die bergpasse mee te maak. Van Wyk bied van September tot November toere van die passe aan, maar gewoonlik is die groepe klein omdat sommige plekke waar hulle vertoef, nie parkering vir baie voertuie bied nie. Omdat die gesprekke in die buitelug gevoer word, kan nie almal in 'n groot groep hom hoor nie.
Die klub het hom hartlik bedank vir sy praatjie, en onderneem om 'n toer vir die klublede te reël.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'