Update
RIVERSDAL NUUS - Des Coetzee het navorsing oor aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit (ook bekend as AAS en ADHD) begin doen omdat haar eie kinders daarmee gesukkel het.
Volgens navorsing is daar meer newe as positiewe effekte van stimulante. Sy wou eerstens 'n alternatief vir stimulante kry en ondersoek wat ouers en onderwysers kan doen om dit beter te hanteer en beheer.
Des vertel: "Daar is een van die baie soorte stimulante vir een van my kinders voorgeskryf nadat ons besef het dat hy aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV of ADHD) het.
"Dit het hom geweldig negatief geaffekteer. Ek het agtergekom dat hoe meer kennis jy van die sindroom het, hoe beter verstaan jy die sindroom en die kind of selfs volwassene wat dit het."
Sy het saam met 'n arbeidsterapeut en sielkundige gewerk om soveel moontlik navorsing en inligting te versamel.
Hulle het opleiding vir onderwysers en ondersteuningsgroepe gegee.
Hulle het gesien dat meeste kinders met die sindroom ook vir arbeidsterapie moet gaan omdat baie met hand-oog-koördinasie sukkel.
Met haar navorsing het sy ondervind dat die skoolsisteem nie geskik is vir kinders met ATHV en AAS nie.
"Hulle kan byvoorbeeld nie stil sit nie. Wanneer daar nie beweging in hul spiere is nie, konsentreer hulle nie. Ek het besef hoe spesiaal mense met aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit is."
Juis daarom het sy 20 jaar gelede 'n skool vir hiperaktiewe en AAS-kinders begin. Dié skool is in die Kaap en funksioneer steeds. Die struktuur van dié skool is anders, selfs die klaskamers.
"Meeste van die ouers wat na my toe gekom het se kinders was nie eers meer in die skool nie. Daar was en is steeds 'n dringende behoefte vir sulke tipe skole. Dit was my grootste begeerte om daardie mooi en intelligente kinders te help.
"Hulle word uitgewerk uit 'n sisteem omdat hulle is wie hulle is. Wanneer veral onderwysers dit nie verstaan nie kan hulle dit verkeerd hanteer. Jy as ouer kan baie tuis doen om jou kind te help."
Haar doel is om almal wat belangstel, maar veral ouers en onderwysers te help om dié sindroom beter te verstaan.
"Kinders met die sindroom kry 'n lae selfbeeld veral omdat hulle anders hanteer word.
"Hul selfbeeld is iets waaraan aandag gegee moet word en ek wil ouers daarmee help."
Sy het reeds begin om gratis werksessies aan te bied. Sy en twee van haar vriende Jaco en Reinette Swanepoel beplan om later kampe en werksessies vir kinders aan te bied.
Om vir die werksessies te bespreek skakel Des by 071 385 6348 of Reinette by 028 713 3961.
Lees 'n vorige artikel | ADHD: Gratis werkswinkels
ARTIKEL & FOTO: SAN-MARIÉ CRONJÉ, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa Karoo nuus'