RIVERSDAL NUUS - Die eerste Familie-leefstyl-mark wat verlede Saterdag 2 Desember by Jurisch Park sy blye opwagting gemaak het, het oorwegend positiewe reaksie van besoekers uitgelok.
Wat veral opgeval het, was hoe netjies en skoon Hessequa-munispaliteit die terrein opgeknap en met massa-aanplantings van struike in 'n lushof omskep het.
Hul pogings verdien net die hoogste lof. Die groot aantrekkingskrag van die mark was die groot trok met sy vars groente en vrugte wat druk besoek was.
Daar was 'n goeie verskeidenheid stalletjies, heerlike eet- en drinkgoed en ook 'n springkasteel wat die kinders besig gehou het. En die deurlopende patrollering deur TFR Sekuriteit het verseker dat daar geen ongure voorvalle was nie.
Hierdie mark gaan nog blom. Dit open elke Saterdag om 09:00 tot om 15:00 en sal tot 7 Januarie 2023 aangebied word.
(Lees Johan Oosthuizen se brief op bl. 2 en Desiree' Coetzee se voorstelle op bl. 3 van vandag se Suid-Kaap Forum).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'