RIVERSDAL NUUS - As Jan (Bike) Theart nog gelewe het, sou hierdie dorp se verkeer en enige rommelstrooiers les opgesê het, want met hou by die reëls en die dorp skoonhou het jy nie by hom verbygekom nie.
Wanneer Jan sy uniform aangetrek en op sy legendariese Harley Davidson geklim het, kon jy albei deur die spreekwoordelike ring trek. Dit was sy trots, net soos wat sy werk vir hom was.
Hy het vele optogte die dorp in en deur die strate gelei en die nodige respek afgedwing.
Jan is in die Paarl gebore en het by Boishaai (Boys High) skoolgegaan. In 1954 sluit hy by die polisiediens aan en werk op baie plekke, onder meer ook by die blitspatrollie in Johannesburg. Later bedank hy en sluit by hul munisipaliteit as trembusbestuurder aan. Na grensdiens in die ou Suidwes-Afrika begin hy by Bellville se verkeersdepartement werk. Daarna is hy na provinsiale verkeer in Mosselbaai, waarna hy in 1965 as verkeersbeampte en ambulansbestuurder op Riversdal aangestel is. Hier het hy bekend, of moet mens liewers sê, berug geword as die 'mees gevreesde verkeersman' van die dorp. Hy het selfs hooggeplaastes en ministers vir spoedoortredings beboet. Niks het hom gestuit nie.
Vir Jan Bike was niks in sy werk te veel moeite nie. Hy was betrokke toe Makadas, die ou stoomlokomotief op 'n laebakvragmotor gelaai is om padlangs na die dorpsplein vervoer te word. Hy het ook gesorg dat die hoë denneboom wat talle probleme vir die ou Spar-winkel veroorsaak het, afgekap word. Hy het self halfpad teen die stam opgeklim om die tou daaraan vas te maak, want hy het niemand anders daarmee vertrou nie. Dit moes reg gedoen word. Hy het alles haarfyn beplan en almal moes saamwerk, en natuurlik is dit suksesvol uitgevoer.
In 1999 ontvang Riversdal 'n prys vir die skoonste en netjiesste dorp, wat Jan namens die dorp in ontvangs geneem het. Dit was immers deur sy deursettingsvermoë en trots dat die dorp so gelyk het.
Jan was ook 'n platjie en vol grappe. Toe die nuwe begraafplaas voltooiing bereik, reken hy dat mens nou kan kies waar jy wil rus, met 'n see- of met 'n berguitsig.
Jan het in 2001 afgetree en is op 2 Maart 2011 oorlede. Diegene wat hom geken het, sê uit een mond: "Ons mis jou."
• Inligting en foto's vanuit die Julius Gordon Africana Sentrum.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'