RIVERSDAL NUUS - Jan Ernst Abraham Volschenk is in die distrik Riversdal op sy pa se plaas, Melkhoutkraal op 20 Augustus 1853 gebore. Hy was baie lief om prentjies in die sand te teken. Plaaswerk was beslis nie sy voorliefde nie. Toe ene James Reitz, 'n staatslandmeter sy natuurlike aanleg eendag raaksien, het hy sy broer Gysbert vertel, wat op sy beurt Jan se pa oorreed het om hom na die seunskool op Riversdal te stuur en na sy matriekeksamen by Reitz en Versfeld in diens te neem.
Toe die Reitz-gesin in 1893 na Europa reis, is Jan saamgenooi en kon hy saam die kunsgalerye en -museums besoek. In België wou hy kunslesse by 'n kunstenaar neem, maar toe hy Jan se besonderse kleurtegniek sien, wou hy nie hê Jan moet die wonderlike talent waaroor hy beskik het, verloor nie en raai hom aan om sy eie ding te doen.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy begin uitstal as deel van die Suid-Afrikaanse Tekenvereniging en na 30 jaar by Reitz en Versfeld-regsfirma, maak hy homself 'los' om voltyds te skilder. Hy is met Helen Smalberger van De Draai getroud em was pa van nege dogters. As vooraanstaande kewerversamelaar het hy ook internasionaal naam gemaak, maar hy moes kies en die skilderkuns het gewen.
Hy was baie lief vir Riversdal en het graag sy huis met liggies versier, met optogte soos die koningin se jubileum. As 'n besonder geliefde inwoner van die dorp is hy vereer deurdat 'n straat en Laerskool Volschenk na hom vernoem is.
Vandag is sy kuns wêreldwyd bekend en kom versamelaars graag na die skilderye wat in die Julius Gordon Africana Sentrum/ Versfeld-huis pronk, kyk.
Hy was 'n nederige mens met vele talente. Sy ateljee was 'n plek waar hy en ander gelukkige tye saam deurgebring het, in hul huis wat gebou is op die plek waar die poskantoor vandag is.
Hy is hier op 22 Januarie 1936 oorlede.
Die Poskantoor staan vandag in die plek van die Volschenk-huis.
Die nege Volschenk-dogters staan soos orrelpypies in 'n ry.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'