Plaaslike kerkgenootskappe, maatskaplike dienste, kindersorg, departement justisie, Love Life, plaaslike polisie, klinieke en beraders (MIV/Vigs) is betrek by die program om te verseker kernkwessies word tuisgebring by die jeug.
Daar is veral gefokus op die negatiewe gevolge van alkohol- en dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, MIV/Vigs, seksuele oordraagbare siektes (STD's), tuberkulose, statutêre verkragting en misdaadvoorkoming. In elke dorp het 'n toegewysde raadslid en spesiale gassprekers die jeug toegespreek met 'n spesiale boodskap.
Die uitvoerende burgemeester van Hessqua, rdl. Emor Nel het die Jeugdagvieringe in Riversdal behartig met ongeveer 500 jeugdiges teenwoordig. Sy het genoem dat 16 Junie 'n geleentheid is waar waardering vir ons jeug erken word. "Julle is ons hoop vir die toekoms en ons besef die groot uitdagings waarmee julle elke dag te doen het. Ons weet die geleenthede is nie altyd oop en bloot daar nie en dat dit maklik kan gebeur dat julle moed verloor. Dit is hoekom die gevaar van dwelms, misdaad en die neiging na verkeerde invloede so 'n euwel in ons gemenskappe geword het".
Nel het vervolgens genoem dat hierdie 'n poging is om te kommunikeer en God se hulp in te roep vir vandag en elke dag vorentoe. "Ons het almal daardie anker nodig, dan beweeg ons in 'n rigting na aan Hom en hou die band met Hom in Sy veilige omgewing." Sy het afgesluit met: "Julle het so baie potensiaal, elkeen met sy eie, unieke talente. Juis dit gee jul ook die verantwoordelikheid om daardie uniekheid te ontwikkel, maar julle moet volhard, weer opstaan as dinge skeefloop. Daar is soveel bewyse dat sukses beskore is vir diegene wie aanhou en deurdruk. Daar is ondersteuning in jul midde, gebruik dit. Ons wil hê julle moet suksesvol wees en julself asook Hessequa trots maak".
Dyan Buis, Hessequa se paralimpiese atleet het as gasspreker opgetree en beklemtoon dat elkeen se sukses reeds begin het by hul vorming in die liggaam van hul moeder, met hul geboorte, eerste treetjie en eerste woordjie. "Daarom is sukses reeds deel van elke jongmens". Hy het die jeug vertel van sy verkeerde lewe, sy siekte en verlamming asook beroerte op 'n jong ouderdom en die jongmense gewaarsku teen die risiko's van 'n onverantwoordelike lewe.
Daar is met hart en siel lofprysing gedoen tydens Melkhoutfontein se Jeugdagvieringe.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein | Hessequa nuus'