HESSEQUA NUUS - Hoewel die damvlakke in die streek hoër as verlede jaar die tyd is, is die droogte van die afgelope drie jaar steeds nie ten volle gebreek nie en opvolgreën sal baie welkom wees.
Die damvlakke was Maandag 2 September soos volg: Korentepoortdam 58,90%, Duivenhoksdam 74%, Olive Grovedam 83% en Jongensfonteindam 100%.
"Die langtermyn weervoorspelling is dat die reënval vir ons gebied oor die volgende drie maande ondergemiddeld gaan wees," sê Harold Basson, direkteur: tegniese dienste van die munisipaliteit.
"Die gemeenskap word dus versoek om water spaarsamig te gebruik." Vlak 2 waterbeperkings is steeds in plek.
Dit beteken:
- Tuine mag slegs twee keer per week tussen 18:00 en 19:00 natgemaak word - gelyke straatnommers op Maandae en Donderdae en ongelyke straatnommers op Dinsdae en Vrydae;
- Tuinslange (onder toesig), emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels mag gebruik word, mits dit binne die toegelate tydgleuf gebeur;
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied;
- Was van voertuie, karavane en bote mag slegs met behulp van 'n emmer gedoen word;
- Indien ander waterbronne soos reënwatertenks of boorgate gebruik word, moet dit op 'n sigbare wyse aangedui word;
- Vergunnings sal oorweeg word vir byvoorbeeld ouetehuise;
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit van bogenoemde beperkings en sal op 'n ad hoc-basis deur administrasie bestuur word.
Volgens die munisipaliteit sal die situasie in die onderskeie dorpe gemoniteer word en indien die droogtetoestand nie verlig word nie, sal strenger beperkings ingestel word.
Elders in die Suid-Kaap is dorpsdamme langs die kus op 'n bevredigende vlak.
Dit sluit die Tuinroetedam by George (70%) en die Wolwedansdam by Mosselbaai (58,2%) in.
"Damvlakke in die Gourits-opvangs-gebied is steeds kommerwekkend," sê Rashid Khan, Wes-Kaap hoof van water en sanitasie.
"Dié opvanggebied kry winter- en somerreënval en ons hoop dat dit die damvlakke sal laat styg."
Die vlakke van besproeiingsdamme is steeds gevaarlik laag. Die Bellairdam by Klein-Brakrivier het 11,8% water. Calitzdorpdam, wat water aan die dorp en boere verskaf, se vlak is tans 14,1%. Ander damvlakke in die Klein-Karoo sluit in Gamkapoortdam wat aan Calitzdorp-boere langs die gelyknamige rivier verskaf (0,2%); Stompdriftdam (7,6%) en Kammanassiedam (2,1%) wat aan Oudtshoorn-boere water verskaf; en die Gamkadam wat aan Beaufort-Wes water verskaf (38,7%).
Die Noord-Kaap is op 1 Augustus tot droogterampgebied verklaar.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'