Update
STILBAAI NUUS - Al ses strande in die Hessequa-streek het op Woensdag 23 Oktober vol blouvlagstatus ontvang.
Die strande sluit Witsand, Stilbaai-Wes, Preekstoel, Lappiesbaai, Jongensfontein en Gouritsmond in.
Die munisipaliteit het só geskiedenis gemaak, want dis die eerste keer in die 19 jaar van die blouvlagprogram se bestaan dat een streek die onderskeiding behaal.
André Hansen, (spesialis: reiniging, publieke fasiliteite en geriewe) het die toekennings namens Hessequa-munisipaliteit in Kaapstad in ontvangs geneem.
Landwyd het 45 strande, 10 volhoubare toerisme-bote en nege marinas blou vlae vir die 2019/20-seisoen ontvang. Die Wes-Kaap spog met 33 van die strande. Daar is vier afdelings waarin streng beoordeel word, naamlik fasiliteite, waterkwaliteit, omgewingsopvoeding en veiligheid en sekuriteit. Die blouvlagseisoen strek vanaf 4 Desember 2019 tot 15 Januarie 2020.
"Die groot uitdaging wat nou vir die munisipaliteit voorlê is om die hoë standaarde tydens die besige vakansietyd te handhaaf," het Hansen gesê.
Lees 'n vorige artikel hier: Hessequa maak geskiedenis
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'