Update
STILBAAI NUUS - Die Hessequa-brandweerspan is hard aan die oefen vir die Toughest Firefighter Alive-kompetisie wat van 5 tot 7 Oktober in Mosselbaai plaasvind.
Die span was Woensdagoggend, 28 Junie, hard aan die oefen by die buiteluggim en parkeergebied van Lappiesbaaistrand in Stilbaai.
Brandweerspanne vanoor Suid-Afrika neem deel aan hierdie uitmergelende kompetisie waar die spanne tot die uiterste beproef word met items eie aan hulle werk.
Hulle moet byvoorbeeld swaar voorwerpe oor 'n spesifieke afstand sleep en dra. Met 'n groot hamer moet hulle hul pad oopkap en dan moet hulle brandslange so vinnig as moontlik oop- en toerol.
Hierdie is maar 'n paar items, maar dit is 'n goeie aanduiding van hoe fisiek hierdie kompetisie is.
Die hamer doen sy werk.
Die Hessequa-span bestaan uit 17 lede, wat mans en vroue insluit, en word beoordeel as span, maar ook individueel. Verlede jaar in September het hulle vir die eerste keer deelgeneem aan hierdie nasionale kompetisie en bo verwagting derde geëindig. In die proses het hulle afgereken met groot brandweerafdelings soos byvoorbeeld die Stad Kaapstad en spanne vanuit die metros in Gauteng.
Individuele lede het ook silwer- en bronsmedaljes verower en dit is duidelik 'n span om mee rekening te hou.
Tydens die Wes-Kaap Spele in Stellenbosch op 4 Mei vanjaar het hierdie span weer die bronsmedalje verower en volgens die spanbestuurder, Enrico Jackson, mik hulle vanjaar vir die goue medalje tydens die nasionale kompetisie in Mosselbaai.
Die brandweerslang word onder luide toejuiging opgerol.
Ten spyte van die feit dat hulle nie oor die fondse beskik om die regte toerusting aan te skaf wat in die kompetisie gebruik word nie, improviseer hulle.
Maar die erns waarmee hulle die fiksheid aanpak en dan nog die items inoefen moet 'n duidelike waarskuwing uitstuur aan die ander spanne: Hier kom 'n ding!
Francois Davids sleep die groot band.
Jaquleen Kannemeyer met twee groot kanne water.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'