Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Bruin water wat sedert Vrydag 9 Augustus uit die dorp en Slangrivier se krane vloei, het inwoners behoorlik omgekrap. "Ons kan nie die water drink nie en wil nie eens daarin was nie," het een inwoner gesê. "Dit kan 'n gesondheidsrisiko inhou."
Die bruin water het weens tegniese probleme by Overberg Water se suiweringsaanleg by die Duivenhoksdam in die dorpe se waterverspreidingsnetwerke beland.
"Overberg Water is 'n onafhanklike instansie by wie Hessequa-munisipaliteit water aankoop en ons het geen beheer daaroor nie," sê Harold Basson, die munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste.
"Hoewel die tegniese probleem by die aanleg aangespreek is, kan die bruin water nog vir 'n onbepaalde tydperk in dele van die verspreidingsnetwerke voorkom," se hy.
"Die munisipaliteit het spoelaksies geloods om van die bruin water te probeer ontslae raak en teen Woensdagoggend was die kwaliteit reeds heelwat beter." Die publiek word egter versoek om nie die bruin water te drink nie.
"Die munisipaliteit het gereël dat tenkwaens met gesuiwerde water in Oosdorp in Heidelberg en Slangrivier rondry om water af te lewer. Daar is ook 'n tenkwa by die munisipale kantore.
Witsand se water is nie op die oomblik in die gedrang nie, maar indien nodig, sal daar ook reëlings getref word.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Heidelberg ontsteld oor bruin water
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'