HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het op eie stoom aan 'n saal langs die kerk begin bou.
Die gemeentelede van dié kerk, wat tans nie 'n leraar het nie, het besluit om met behulp van fondsinsamelings die groot taak aan te pak.
Van die ouer manne met Flip September aan die stuur het op 26 Januarie 2019 met die R50 000 wat hulle bymekaargemaak het, begin met bouwerk aan die fondasie. September, een van 12 seuns wat almal bouers is, is steeds in beheer van die gewerskaf.
Sannie Hill en haar span vroulike lidmate het gesorg dat die manne wat self moue opgerol het, gedurende die warm somermaande voldoende lafenis uit die kombuis kry.
Teen Junie verlede jaar was die mure gebou, maar die geld was op. Die bouwerk het vir ses maande stilgestaan terwyl nog geld ingesamel is. Uiteindelik kon die fondasie Saterdag 22 Februarie klaar gegooi word.
Tot dusver is nie 'n enkele sent as vergoeding vir die werk bestee nie, want die gemeentelede doen self die harde werk. Stadig maar seker bereik hulle elke volgende mylpaal.
Die fondsinsamelingskomitee se skriftelike versoek aan verskeie maatskappye en plaaslike besighede om finansieel by te dra het sover op dowe ore geval, maar die gemeente het dit 'n gebedsaak gemaak om teen middel 2021 die saal in gebruik te neem.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'