Gallery Video
HEIDELBERG NUUS - Die jaarlikse kommandorit het amptelik Vrydag 22 September afgeskop toe daar oudergewoonte perde aangery, tente opgeslaan en om die kampvuur by die skouterrein se skaaphokke gekuier is.
Ongeveer 23 perde en hul ruiters, wat hoofsaaklik uit gesinne bestaan wat 'n groot liefde vir perde koester, het Saterdag 'n 10 km-perderit aangepak.
Die roete het by die skouterrein begin, waar eers 'n ruiker ter nagedagtenis aan die oorlede perdelegende van die dorp, Doors Kleynhans, op die paviljoen gesit is.
Ruiters kon iets drink en eet by 'n padstal net buite die dorp en weer na die beginpunt terugkeer.
Suid-Kaap Forum het sommer self uit die perd se bek gaan hoor wat die doel van hierdie gebeurtenis is.
"Ons wil die platform behou vir kinders en gesinne om tyd saam in die natuur met hul perde te geniet," het die organiseerder, Lazanne Thiart, vertel. Sy is ongeveer agt jaar by hierdie jaarlikse pretrit betrokke.
"Sondagoggend se rit was ongelooflik mooi. Ons het op Altus Joubert se plaas agter skoolbult deurgery en by die bentonietmyne verby terug na die skouterrein."
Sondagmiddag was dit weer 'n perd van 'n ander kleur, want dit was tyd vir oppak en terugkeer huis toe. Alle kostes verbonde aan die kommando sal volgens Thiart vanaf volgende jaar uitgeskakel word.
"Elkeen sal vir hul eie etes en ander kostes sorg, sodat dit meer bekostigbaar is en hopelik meer deelnemers lok."
Hoewel met 'n swaar gemoed afskeid geneem is, was daar 'n huppel in elke perd se gallop, want die ruiters kan daarna uitsien om volgende jaar weer oor die klippe en deur die slote, versigtig te trap met hul perde se pote.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Heidelberg saal die regte perd op
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'