Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die jaarlikse Lentetee van die Hansie en Grietjie-kleuterskool was hierdie jaar 'n klinkende sukses.
Die Lentetee is een van die skool se jaarlikse fondsinsamelingsfunkies en word gewoonlik op die tweede Saterdag van September gehou.
Vanjaar was nie 'n uitsondering nie en het op Saterdag 8 September plaasgevind.
Die ouers en vriende van die skool het hulself oortref deur die beste Lenteteefunksie nóg te reël en 250 kaartjies te verkoop. Die gasspreker was die gewilde omroeper van Radio Tygerberg, Benescke Janse van Rensburg.
Ofskoon die tema High Tea was, kon dit netsowel 'Hoedjie wil sy dra' gewees het.
Mens, was daar hoede! Plat hoedjies, ronde hoedjies, hoedjies wat regop staan en hoedjies wat skuins hang.
Daar was vasklou-hoedjies en hoedjies wat agterna wapper… hoedjies net waar jy kyk.
Elna Kluyts van die kleuterskool is trots op die poging van die ouers: "Ouers tree self op as gasvrouens by die tafels en sorg vir die soet- en soutgereg.
Die gasvrouens dek hul tafels, daarom lyk al die tafels anders, maar die tema bly dieselfde. Hulle kry ook borge om aan elk van die vroue aan tafel 'n klein geskenkie te kan oorhandig."
Kluyts spog dat die geleentheid goed ondersteun word deur vroue van die buurdorpe. Die Lentetee het ook borge wat gelukstrekkings verskaf om die dag op 'n hoë noot te laat eindig vir 'n paar gelukkige vrouens.
Die geleentheid, wat inderdaad in sy doel geslaag het om geld in te samel, is besig om 'n spoggeleentheid in die dorp te word.
Dit was net hoede waar jy kyk...
Daar was vasklou-hoedjies en hoedjies wat agterna wapper… hoedjies net waar jy kyk.
Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel hier: Hansie & Grietjie hou High Tea
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'