STILBAAI NUUS - Die 74-jarige Hans Langenhoven, of beter bekend as Hans die Stapper, van Riversdal het Saterdag 4 Februarie saam met die Stilbaai Stappers tot by die kruin van Sleeping Beauty geklim.
Met 'n volgepakte rugsak het hy in die maanlig tot bo geklouter waar die span dan ook oornag het.
Oom Hans sê met 'n glimlag: "Dié berg is nie 'n man se speelmaat nie, maar die ouderdom ook nie. Hy het selfs sy luidsprekertjie saamgedra om vir almal die liedjie "Morning has broken" te speel met sonsopkoms.
Tina Kaldenberg McLeod sê dit is danksy sy aanmoediging en inspirasie dat sy ook die voorreg gehad het om die staptog mee te maak.
Hans Langenhoven is in Ladismith gebore en was in Oakdale op skool.
Hy het lank in Namibië gewoon, maar nou is hy terug in die "Dal" waar hy en sy vrou, Aretha, hulle pragtige tuin mooimaak en waar hy natuurlik na hartelus stap.
As jy 'n omie met 'n stapstok sien, sal jy vinnig moet draf om by te hou, maar stop gerus om te groet.
Hans Die Stapper, of dan Hans Langenhoven, voordat hy Sleeping Beauty aangedurf het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'