SUID-KAAP NUUS - Meer as 100 boere het op 26 September van so ver as Swellendam 'n jaarlikse graandag wat op Voorbaai, Mosselbaai aangebied is, bygewoon.
Die Hendrik Pienaar-graandag word sedert 2013 elke jaar in Oktober op Mosselbaai gehou.
Hierdie inisiatief is die breinkind van Hendrik Pienaar, 'n boer wat ses jaar gelede die enigste boer in die distrik was wat op daardie tydstip met planters geplant het.
Hy wou hierdie rewolusionêre metode aan ander boere bekendstel. Ten spyte van die erge droogte wat die Mosselbaai- en Albertinia-distrikte die afgelope drie jaar teister, het die graandag in 2019 steeds voortgegaan.
Verskeie boere wat die dag bygewoon het gaan vanjaar weinig opbrengste hê, maar almal was saam met boere wat wel relatief suksesvol was, bly. In die beginjare het boere soos Bertie Horn, CD du Toit en Hennie Bosman van Albertinia en Ruben Barnard van George, Hendrik se entoesiasme oor dié dag gedeel en hulle is sedertdien aktiewe medewerkers om die dag elke jaar 'n sukses te maak.
Verskeie van die jong, dinamiese boere in die streek het die dag bygewoon en ook self by die graanlande aanbiedings gedoen. Boere het gehoor van die waarde van presisie boerdery. CD du Toit het sy ondervinding van grondgesondheid gedeel en 'n interessante aanbieding is deur MOOV-verteenwoordigers gedoen. Hierna het die praktiese deel van die dag afgeskop. Boere is per bus tussen die plase vervoer waar hulle graan besigtig het. Plase en boere wat besoek is, sluit in: Hennie Bosman, Jurg Streicher, CD du Toit, die De Jagers, Poggenpoels en Mullers van die Patrysfontein-plase. Die aand is tradisioneel met 'n braai afgesluit.
Volgens Hendrik Pienaar is die goeie reënval die eerste belegging vir die 2020 oes.
Die boere het verskeie plase besoek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'