Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - 'n 14-Jarige van dié dorp, Cara Serfontein, het Maandagaand 1 Julie skoonskip gemaak van kykNET se vierde Op die Spel-kompetisie vir hoërskoolleerders.
Serfontein, 'n gr. 8-leerder aan Hoërskool Langenhoven was die jongste van die vier deelnemers wat tot die eindronde deurgedring het.
Sy het die ouer leerders deeglik uitgestof en as algehele wenner van gr. 8 tot gr. 11 uitgetree. Daarmee het sy pryse ter waarde van meer as R100 000 vir haar en die skool ingepalm. Naas R25 000 vir haarself en nog soveel vir die skool, het sy en die skool ook woordeboeke en speltoetsers ontvang.
Die kompetisie is die vierde in die reeks wat sedert 2015 deur kykNET aangebied word. "Hierdie is die tweede kompetisie waaraan net skoolkinders deelneem," het Gerhard van Huyssteen, die beoordelaar, vir Suid-Kaap Forum gesê.
"Altwee dié kompetisies is deur gr. 8-meisies van die Wes-Kaap gewen. Verlede jaar se wenner was Elsa-Marié van der Watt van Stellenbosch, en sy was toe ook die jongste deelnemer."
Volgens Serfontein is sy van jongs af baie lief vir lees en Afrikaans en Engels is haar gunsteling vakke. Kuns- en kultuuronderwyser, Cheryl Krause het die kompetisie in Januarie vanjaar onder die leerders se aandag gebring. Serfontein en nog 'n klompie ander het ingeskryf, maar net sy het tot die tweede ronde deurgedring. "Dié ronde is telefonies gedoen," vertel sy. "'n Week en 'n half later het hulle my laat weet ek mag deelneem."
Die organiseerders het spellyste gestuur en 'n lys boeke wat onder meer spelreëls verduidelik, aanbeveel wat hulle ter voorbereiding kon deurwerk.
"Al 13 episodes is in Stark Studio in Randburg opgeneem - eers agt uitdunrondes, toe vier halfeindrondes vir elke graad en toe die eindronde waartydens die grade teen mekaar meegeding het," verduidelik Van Huyssteen.
"Die spelling is nie die moeilikste nie, die spanning is," sê Serfontein.
"'n Mens kry net 30 sekondes om agt woorde te spel en ek kon met die eerste ronde net sewe gespel kry, toe is die tyd op."
Van die woorde wat sy moes spel was 'Verenigde Arabiese Emirate'. "Gelukkig het ek darem al daarvan gehoor."
Van Huyssteen stem saam dat die eindronde baie spanningsvol is. "Mense sê altyd die kompetisie is nie so moeilik nie - maar sit die druk van ligte, gehoortoestelle en kameras by en dan is die stres om 'n knoppie onder daardie omstandighede te druk, ongelooflik erg."
Volgens hom was die vrae vanjaar 'n graad moeiliker as verlede jaar s'n. "Dit handel ook nie net oor spelling nie, maar die deelnemers moet wys hulle kan die taalreëls toepas. Hulle moet ook algemene kennis hê en weet wat in die wêreld aangaan."
Lees 'n vorige artikel hier: Spelling is haar kos
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'