Gallery Update
GOURITSMOND NUUS - Gouritsmond het 'n geskiedenis van waterprobleme en was dit noodsaaklik om die pyplyn, asook stoorkapasiteit van die Gouritsmond-wateraanleg op te gradeer.
"Die omgewing se water het 'n hoë kalsium-inhoud en gee dit aanleiding tot sogenaamde harde water. Hessequa-munisipaliteit het verskeie operasionele werkswyses oorweeg om die probleem aan te spreek, maar daar was steeds ander aspekte wat die kwaliteit van die water beïnvloed het," sê Didi Budricks, munisipale woordvoerder.
Na verskeie konsultasieprosesse, openbare vergaderings en navorsing is die projek uiteindelik as 'n kapitale projek (Geïntegreerde Ontwikkelingsplan projek 34) gelys.
Die benadering was die gebruik van tru-osmose tegnologie wat die hoë kalsium inhoud in die water verwyder en sodoende die hardheid van die water effektief verlaag.
FOTOGALERY: GOURITS-AANLEG OPGRADEER
Die projek is in verskillende fases uitgerol, onder meer die siviele werke wat die gebou self, pypwerk en kleppe insluit.
Die volgende fase het die membrane, elektriese en meganiese komponente ingesluit. Die finale fase was die installering van die sandfilter op 19 Februarie. Die totale projekkoste het meer as R3.2 miljoen beloop.
"Die waterkwaliteit word deurlopend gemonitor deur middel van gereelde watermonsters wat deur 'n eksterne laboratorium geanaliseer word. Daar word ook maandeliks verslag gedoen aan die tegniese portefeulje komitee rakende die waterkwaliteit van al die wateraanlegte in die Hessequa munisipale area," sê Budricks. "Die raad bedank die gemeenskap vir hul betrokkenheid en geduld in die verband."
Vorige artikel: Wateraanleg word opgradeer
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'