ALBERTINIA NUUS - AfriForum se Goukou-plaaswag het Saterdag 1 September bystand verleen nadat 'n plaaswerker 'n verdagte persoon op een van die lede se grond naby die dorp gewaar en die plaaseienaar in kennis gestel het.
Die polisie en ander lede van die plaaswag is ontbied. By nadere ondersoek is 'n lang slagmes in die verdagte persoon se besit gevind. Die polisie het die persoon in hegtenis geneem.
"Dit is onduidelik wat die persoon se motief op die perseel was.
Die plaaswerker en plaaswag se flink, proaktiewe optrede het egter verhoed dat potensiële skade aangerig is.
'n Saak van betreding is geopen en die persoon is 'n boete van R1 000 opgelê," sê Johandré van Zyl, AfriForum se streekhoof vir gemeenskapsveiligheid in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap.
Enige persoon wat by die organisasie se veiligheidstrukture betrokke wil raak, kan die woord 'Veilig' na 45353 SMS (R1).
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'