Update
RIVERSDAL NUUS - Ashley-Ann Kortjie (27) is met spina bifida en ook dwergisme gebore.
Dit het haar baie lank geneem om haarself te aanvaar. In 'n stadium wou sy glad nie uit die huis gaan nie.
Sy is baie kort en hoewel sy kan loop moet sy met krukke oor die weg kom. Sy was slegs vier jaar oud toe sy haar eerste rug- en beenoperasie ondergaan het. Sy moet steeds beenstutte dra omdat haar voete en bene na die binnekant toe draai.
Daar was 'n stadium in haar lewe wat sy gewens het dat sy soos ander mense kan wees.
"Die man van Bo het sy doel met elke mens op aarde. Al is ek gestrem kan ek steeds praat, hoor, sien en met my hande werk.
Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.
Ek het aanmekaar vir myself gesê dat indien ek nie myself gaan aanvaar nie, hoe sal ander mense my dan kan aanvaar?"
Spina bifida ontstaan wanneer die ruggraat nie goed vorm nie.
Sommige van die bene wat die ongebore baba se werwelkolom vorm, sluit nie behoorlik met mekaar aan nie.
Dit laat dan 'n opening in die ruggraat.
Die sagte dele van die rugmurg, wat bestaan uit spinale senuwees en serebrospinale vloeistof (CSF) druk deur hierdie opening, wat skade aan die rugmurg veroorsaak. Ongeskiktheid wissel van kind tot kind.
Van die nadele van spina bifida is:
- Verlies van gevoel na die onderste ledemate.
- In baie gevalle kan totale verlamming van die onderlyf voorkom.
- Ongelukkig het 'n groot meerderheid mense wat met spina bifida gebore is, nie normale blaas- en dermfunksie nie.
- Sommige kinders kan hydrocephalus (oortollige CSF op die brein) ontwikkel.
Ten spyte van haar gebrek help sy tans vrywillig by die plaaslike biblioteek.
"Dit het my gemotiveer om nie meer skaam te wees oor myself nie en ek sal ook meer mense so ontmoet.
"Ek het begin Bybel lees en later vir myself gesê dat ek myself nie so geskape het nie. Mense moet maar daaraan gewoond raak dat daar mense soos ek is."
Om met krale te werk, te verf en mosaïek te doen is stokperdjies wat sy baie geniet.
Sy het ook terwyl sy in Astra skool vir liggaamlike gestremdes was aan sportsoorte soos basketbal, tennis, gimnastiek en baldans deelgeneem.
Hoewel sy afhanklik van ander is om haar te help om van punt A na punt B te beweeg is sy ook baie onafhanklik.
"Ek maak my eie bed op in die oggende en kan ook vir myself toebroodjies maak. Omdat ek nie by die stoof kan bykom nie kan ek nie self kook nie, maar ek kan gelukkig vir myself kos warm maak."
Sy maak tans van 'n rolstoel gebruik om rond te kan beweeg.
Sy vertel: "Omdat ek baie kort en klein is laat dit my baie ongemaklik voel. Ek verkies dit om met die rolstoel te ry omdat almal na my staar wanneer ek met die krukke loop.
"Dit maak my gevoelens seer wanneer mense aanhou kyk en praat wanneer hulle my sien. Die selfbeeld wat ek so gesukkel het om op te bou steel hulle eintlik."
Hoewel sy 'n klein mensie is, het sy 'n groot sin vir humor en sprankelende persoonlikheid en juis daarom het Zubeida Toefy voorgestel dat Ashley-Ann 'n ambassadeur vir ASBAH (Association for Spina Bifida and Hydrocephalus) moet word.
Toefy het verpleeg terwyl Ashley-Ann in die Rooikruis-kinderhospitaal was. Sy het ook vir Ashley-Ann en van haar vriende na die plaaslike biblioteek geneem en gevra of daar 'n moontlikheid is dat sy vrywillig daar kan help.
Ashley-Ann se doel is om ander gestremdes te inspireer en hulle te help om nie skaam vir hulself te wees nie.
Sy voel ook baie trots daarop om 'n ambassadeur vir ASBAH te kan wees. Haar grootste doel in die lewe is net om gelukkig te wees en sy droom daarvan om eendag te kan trou en 'n gesin te hê.
Tans het sy altyd iemand nodig om haar te help deur haar rolstoel vir haar te stoot wanneer sy wil rondbeweeg.
'n Elektriese-rolstoel sal haar lewe vergemaklik en sy sal ook dan minder afhanklik van ander wees.
Ongelukkig kan nie sy of haar ouers een bekostig nie.
Sy wil graag haar ouers, vriendin Chantall, Zubeida en Melanie Cloete van die biblioteek bedank.
"Chantall help my altyd sonder om te skroom en jy kan maar sê ons is besties. My ma is my rots en ek sê elke oggend vir die man van Bo dankie dat Hy my oë laat oop gaan het en vir my nog 'n dag gegee het."
Lees 'n vorige artikel: Gestremdheid kry haar nie onder nie
ARTIKEL: SAN-MARIÉ CRONJÉ, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'