RIVERSDAL NUUS - Terwyl gesondheidwerkers dringend wag om met 'n veilige, doeltreffende entstof teen Covid-19 beskerm te word, kan jy hulle intussen met 'n omgeepakkie bederf.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het die afgelope maand 'n nuwe projek genaamd Support-A-Nurse van stapel gestuur met die doel om mediese personeel te ondersteun.
"Die Covid-19 mediese personeel by Riversdal-hospitaal werk elke dag onver-poosd om die gemeenskap veilig te hou en teen die virus te beskerm. Hulle het ons ondersteuning nodig deur middel van dié klein gebaar," sê Andrew Stroebel, voorsitter van die Hessequa-kiesafdeling.
Dié projek word reeds met goeie ondersteuning in die Oos-streek aangebied.
Hessequa het sy eerste skenking pas ontvangs en kon 50 omgeepakkies daarmee opmaak.
Margaret Jakobs, voorsitter van DAWN (Democratic Alliance Women's Network) het die pakkies aan die hospitaal oorhandig.
Dit bevat allerlei lekkernye, soos beskuitjies, sjokolade, biltong, droëwors, aartappelskyfies, energiestafies en 'n energiekoeldrank.
Die ideaal sal wees om ook na die gesondheidspersoneel van die dorp en selfs die hele Hessequa-streek se klinieke, aansterk-instellings en bejaarde tehuise uit te reik, maar dit sal slegs moontlik wees deur volgehoue ondersteuning en ruim skenkings.
Die organiseerders wys uit dié projek, van die insameling van die skenkings tot die uitdeel van die pakkies, word deeglik gemoniteer om te verseker elke lid van die mediese korps word bereik.
Die gemiddelde waarde van 'n omgeepakkie is sowat R150.
Rig navrae oor skenkings aan Margaret Jakobs (073 976 4784) of Louise Mouton, kiesafdeling-koördineerder (072 374 1935).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'