ALBERTINIA NUUS - Ludwig Oosthuizen, eienaar van die plaas Rooiheuwel, sowat 20 km uit die dorp wat sedert 1873 deur sy familie bewoon word, glo nie om sy geraamtes in die kas te bêre nie. Hy stal hulle uit vir almal om te sien.
As jong boerseun het hy belanggestel in gebeendere. In 1976, toe hy in standerd sewe (graad 9) was, het sy onderwyser gevra of hy vir die standerd nege-klas sal help om 'n geraamte te bou.
In daardie stadium het hy net diere se kopbene gehad, want daar was nie stoorplek vir volle geraamtes nie.
Hy het ingestem en het die volgende vyf jaar met hierdie projekte hulp verleen, al was hy al klaar met sy skoolloopbaan.
Ludwig het al 104 geraamtes aanmekaargesit oor die afgelope 40-plus jare. Die kleinste is 'n swaeltjie en die grootste twee is 'n perd en 'n elandbul.
Hy is tans besig met 'n kameelperd, maar hy vertel dat die kameelperd se bene nog nie droog genoeg is om te bewerk nie, want daar kom nog vog en vette uit, al lê die karkas al meer as ses maande in die son.
Ongeveer 32 van sy geraamtes is by die Albertinia-museum, die Garden Route Game Lodge en die plaasmuseum op Tuinplaas uitgestal.
Die res is by hom op sy plaas.
In 2005 het die tydskrif Huisgenoot oor die geraamtes berig en in 2006 het die televisieprogram Kwela by hom op die plaas gekuier.
Ludwig vertel dat die Kwelaspan die hele dag by hom deurgebring het en toe die program uitgesaai was, was dit omtrent net twee minute lank.
Die geraamtes word bewerk van diere wat natuurlik gevrek het.
Hy tel die dooie dier, voël of slang op as hy dit raakloop, of kry van plaaslike boere waar hulle diere gevrek het. Die proses om die dooie dier te bewerk is lank.
Eers moet die vel en vleis afgesny word en dan moet die bene sorgvuldig skoongemaak word deur die vleis en senings af te krap en die bene te borsel om seker te maak dat alles verwyder is.
Hierna word die bene met 'n bleikmiddel gewas om alle parasiete dood te maak en dan word dit in die son geplaas om al die murg en vette uit te droog. In die geval van 'n groot dier kan dit tot 'n jaar neem voor die bene verder bewerk kan word.
Na die bene behoorlik gedroog het, gebruik Ludwig staal, draad, skroewe en lym om die geraamte te vorm en aanmekaar te sit.
Die proses neem vanaf twee maande na langer as 'n jaar, afhangend van die soort dier wat bewerk word.
Hy moet ook na sy ander boerderybedrywighede omsien en is hierdie slegs 'n stokperdjie.
Wat verstommend is, is dat die mens sewe nekwerwels het en alle soogdiere het ook sewe.
Van die kleinste tot die grootste - die kameelperd ingesluit. Die kameelperd s'n kan so lank as 25 sentimeter wees. Hierdie magiese syfer 'sewe' is beslis nie terloops nie.
Ludwig versamel ook alles wat hy raakloop om vir die nageslag te beskerm, onder andere ou ploegies, fietse en toerusting wat lê en oproes langs die pad. Sewe van sy oeroue ploeë word ook in die plaasmuseum op Tuinplaas uitgestal.
Hoe lank gaan hy nog sy stokperdjie beoefen? "Wanneer ek die Groot 5 almal gedoen het..."
ARTIKEL: JEFF GIBSON, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'