HESSEQUA NUUS - 'n Toename in geelsug (Hepatitis A)-gevalle is in die Heidelberg-omgewing opgemerk, met 14 bevestigde gevalle tans.
''Hierdie word nie as 'n uitbraak beskou nie, aangesien daar geen epidemiologiese skakeling gevind kan word tussen die gevalle nie,'' sê Nadia Ferreira, media woordvoerder van die Wes-Kaap departement van gesondheid.
Die distrik monitor die gevalle en 'n bewusmakingsveldtog is van stapel gestuur om die belangrikheid van persoonlike higiëne te beklemtoon en om enige gevalle met simptome van geelsug aan te meld.
Van die ander rolspelers het reeds begin met praatjies by plaaslike skole om leerders in te lig.
Gemeenskapsorgwerkers deel tans ook inligting met hulle huisbesoeke.
Hoewel infeksie van kinders gewoonlik nie ernstig is nie, kan ernstige siekte voorkom in spesifieke hoë risiko ouderdomsgroepe asook volwassenes.
Wat is Hepatitis A(geelsug)?
Dit is inflamasie van die lewer, wat veroorsaak dat die lewer nie optimaal werk nie en word veroorsaak deur die Hepatitis A-virus.
Simptome
Naarheid en braking, geel vel of oë, donker urine, bleek ontlasting (poo), geen energie, omgekrapte maag met pyn, koors en algemene pyne.
Indien iemand een of meer van die simptome toon of in kontak was met iemand wat Hepatitis A het, moet hulle 'n dokter, óf die kliniek óf hospitaal besoek.
Hoe word dit versprei?
Deur die ontlasting van'n infektiewe persoon en kan oorgedra word deur nabye kontak, swak persoonlike higiëne, deel van persoonlike besittings met infektiewe persoon soos eetgerei, besmette water of melk, besmette kos insluitend skulpvis.
Goeie higiëne soos die was van hande met seep en water sal help om infeksie te bekamp.
Was jou hande deeglik voor- en na kosvoorbereiding, voor jy eet, nadat jy by die toilet was en nadat jy jou baba se doek geruil het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'