HESSEQUA NUUS - Ná besondere goeie reënval - meer as 24 mm die afgelope week en bykans 92 mm dié maand - is Hessequa se damme boordens toe vol.
Dis net die Olive Grovedam wat op 95% van sy kapasiteit staan en dis geen rede tot kommer nie. Die ander damme loop oor.
En die winter is nog nie naastenby verby nie en nog reën is op pad.
Dit het lesers uit Hessequa laat wonder waarom streng waterbeperkings steeds geld (ons plaas 'n lesersbrief ook op bl. 2 van môre se Suid-Kaap Forum).
Ons het die brief aan die Hessequa-munisipaliteit vir kommentaar voorgelê. Deon Lewis-Michaels, bestuurder: regs- en administratiewe dienste by Hessequa-munisipaliteit het só daarop geantwoord:
Hessequa-munisipaliteit doen 'n beroep op die inwoners van Hessequa om water spaarsamig te gebruik.
Alhoewel ons 'n goeie reënseisoen agter die rug het en ons damvlakke tans goed vertoon, het die kragonderbrekings 'n direkte impak op die vermoë om voldoende hoeveelheid water te suiwer en word die beperkings steeds gehandhaaf in die onderskeie dorpe soos ingestel.
Water is 'n kosbare kommoditeit en waterbesparing moet 'n leefstyl wees, nie net tydens droogte nie.
Die huidige waterbeperkings kan slegs tydens 'n sitting van die uitvoerende burgemeesterskomitee gewysig word.
Die volgende geskeduleerde sitting was op Woensdag 28 Julie plaas waarna die publiek dienooreenkomstig in kennis gestel sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’