HESSEQUA NUUS - Baie inwoners van veral Riversdal het die afgelope maand reeds met Hugo Redelinghuys kennis gemaak, hetsy by geleenthede of op verskeie sportvelde.
Hugo het nie slegs in hierdie tyd vir die redakteur van Suid-Kaap Forum, Wilma Adamson ingestaan terwyl sy met verlof was nie, maar het permanent by die koerant aangesluit.
Hy sal voorlopig as senior joernalis werksaam wees, maar sal vanaf 1 Januarie 2023 by Adamson, wat op 31 Desember vanjaar aftree, die leisels as redakteur oorneem.
Hugo is reeds sedert 2012 by Group Editors werksaam. Hy was vir nege jaar sportredakteur by George Herald, susterskoerant van die Suid-Kaap Forum.
Op 2021 word hy redakteur van Graaff-Reinet Advertiser en op Januarie 2022 ook redakteur van beide die Graaff-Reinet Advertiser én Oudtshoorn Courant, albei susterskoerante van Suid-Kaap Forum.
As sportfotograaf en -joernalis het hy oneindig baie nasionale toekennings verower met uitstekende fotografie, veral met sy aksiefoto's en kon lesers die afgelope paar weke 'n voorsmakie daarvan op ons sportbladsye kry.
Toekennings
Te veel om op te noem, maar hier is 'n paar wat hom baie na aan die hart lê: SWD sportskrywer en fotograaf van die jaar en finalis vir die Westelike Provinsie sportskrywer en fotograaf van die jaar.
Hy het altesame 24 nasionale pryse verower vir sy sportfoto's en as sportjoernalis by die jaarlikse FCJ-toekennings vir uitnemendheid, die enigste en grootste koerantkompetisie in Suid-Afrika vir gemeenskapskoerante.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'