HEIDELBERG NUUS - Die nuutgestigte omgewingsbewustheidsgroep onder leiding van Pierre van der Berg en Louise Kluyts, het die kundigheid en passie van Pat Esau, afgetrede onderwysman, natuurliefhebber en plantkundige bygekry.
Hulle is nie net ten doel om die euwel van rommelstrooi aan te pak nie, maar ook om op die restourasie van die dorp se Culla Uys-natuurtuin te fokus.
Nagenoeg 45 inwoners, personeel en leerders van Hoërskool Heidelberg het Saterdag 3 November weer 'n skoonmaakaksie gehou om die dorp skoon te maak. Dié keer was daar heelwat minder deelnemers as die vorige keer as gevolg van ander funksies. Die aksie het ongeveer 80 sakke vullis opgelewer.
Na die verrigtinge het almal in die natuurtuin gekuier, terwyl Esau 'n praatjie oor die geskiedenis van die totstandkoming daarvan, asook die belangrikheid om dit te restoureer, gehou het. Volgens hom is die restourasie en rehabilitasie 'n groot behoefte, omdat daar so 28 jaar gelede daadwerklike werk op die perseel gedoen was.
Esau het beklemtoon dat dit 'n bate vir die gemeenskap is en die handewerk van die gemeenskap, asook inheemse bome, struike, saadbedekking en bolvormige plante benodig.
Volgens hom beskik die tuin oor 'n rare Haworthia, 'n genus van vetplante inheems aan Suid-Afrika, maar endemies aan die terrein in die tuin is.
Voor, tweede van links sit Pat Esau en Louise Kluyts by die groep vrywilligers voor hul vertrek na hul verskeie punte waar hulle gaan rommel optel het. Foto’s verskaf
Hy het bygevoeg dat Culla Uys in 1983 as burgemeester van Heidelberg, 'n gedetailleerde werkprogram vir die perseel met instruksies dat meer aalwynspesies geplant en die steil helling gestabiliseer moet word om grondverskuiwing te voorkom.
"Dis ons doel om te verseker dat die tuin wat deel van die fietsry- en voëluitkykroete uitmaak, 'n algehele gedaanteverwisseling ondergaan."
Belangstellendes kan Kluyts by 028 722 1080 of 082 378 4126 skakel.
Die leerders van Hoërskool Heidelberg het by die kanaal skoongemaak.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'