Update Video
HESSEQUA NUUS - Finansiële hulp is aan 10 Hessequa-sportklubs en nege sosiale ontwikkelingsorganisasies verleen.
Hessequa-munisipaliteit het R176 000 vir dié doel toegestaan. Uitvoerende burgemeester Grant Riddles het die geld wat wissel van R7 000 tot R10 000 per ontvanger, op Vrydag, 20 November oorhandig.
Die sportklubs sluit in rugby-, tafeltennis-, krieket-, muurbal- en dominoklubs. In die sosiale ontwikkelingskategorie was Kansa Suid-Kaap, Good to share leadership foundation, Loving Shephards-koor, Kindersorg Riversdal, Heidelberg en Albertinia, Smiling Ducks-voorsorg, Slim Konyntjies en Badisa Stilbaai die begunstigdes.
In sy toespraak aan die gaste en begunstigdes het Riddles gesê die munisipaliteit streef daarna om 'n omgee-munisipaliteit te wees en die mense te dien. "Die doel van die finansiële hulpverlening is om organisasies met armoedeverligting en die bemagtiging van vaardighede by te staan."
Riddles het aartsbiskop Desmond Tutu aangehaal in ubuntu se definisie, soos deur Tutu verwoord. "Ons dink aan onsself veels te dikwels as net individue, geskei van mekaar, terwyl jy verbind is en wat jy doen die hele wêreld raak."
Hy het bygevoeg dat die finansiële hulpverlening presies is waaroor ubuntu gaan. "Dit is 'n herinnering dat elke ding wat jy doen, goed of sleg, 'n uitwerking op iemand anders het."
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Munisipaliteit reik uit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'