Van so ver as Port Alfred, Uitenhage en Port Elizabeth, ál kuslangs tot by Witsand en van oor die berg uit Oudtshoorn het susters uit sewe Gereformeerde Kerke die brandstofprys getrotseer om die afgelope Saterdagoggend, 9 Maart, liefdesbande te kom versterk.
Die vraag wat dr. Potgieter moes beantwoord was: hoe kan die vrou as gelowige altyd diensbaar wees waar God haar in Sy Koninkryk wil gebruik? Sy antwoord was dat God ons na Sy beeld geskape het om as sy geloofsmense "berge" te versit. God se karaktertrekke word ons eie as ons in die geloof ons vrese oorwin, aan wanhopiges die vaste hoop op verlossing deur Christus uitdeel, en Sy liefde daadwerklik uitleef.
Hoe leer ons God se wil ken? Deur daaglikse Bybelstudie, gebed en bewuste nadenke. Deur nadenke laat ons Hóm toe om met óns te praat. So leer ons ook om deel van 'n span te word. Ons leer om buitestanders in te trek. Ons leer om op te hou bang wees vir foute maak en kritiek kry. Deur baie en groot foute heen leer ons om dinge beter te doen. Ons moet op ons sterk punte "inzoom" en net op een ding fokus soos Paulus op die "wenpaal". Ons moet tyd afstaan om aan ons geliefdes ondersteuning te gee en ook terug te ontvang. Ons moet ons gemaksone verlaat en geleenthede aangryp. Ons moet getrou wees in die klein dingetjies, soos Rut die koringare een vir een opgetel het.
God wil ons gebruik waar ons nou is. Daar moet ons ons uitleef.
Die GK Stilbaai se susters insluitende orrelis en klarinetsolis Arina Krüger, "geleende" sopraan Annetjie Joubert en begeleier Maggie Filmalter en spysenier Magda Nieman met haar span, het elk met haar eie gawe die fees betekenisvol, vreugdevol, prentjiemooi, klankryk en smaaklik laat verloop. Wyna Roestorff, die voorsitter van ons Evangelisasiekommissie het via 'n dataprojektor-aanbieding almal teenwoordig op reis geneem vanaf hul naaste tot by hul verste betrokkenheid.
Die aanbieding oor die GK se twee kinderhuise het die kollektesakkies laat bult. En na 'n heerlike middagete het almal met nuttige geskenkies geestelik versterk en gemotiveer huiswaarts gekeer.
Die dames geniet 'n ligte ontbyt in die tuin.