RIVERSDAL NUUS - Die aanstelling van 'n kontrakteur word beoog om teen 19 November gefinaliseer te wees om sodoende die informele nedersetting, Kwanokuthula te elektrifiseer.
Dié projek word deur die departement van energie befonds. Kwanokuthula het ontstaan as gevolg van onwettige oprigting van strukture deur inwoners en die munisipaliteit het dit as 'n noodgebied erken. Onwettige elektriese verbindings en die herverspreiding van elektrisiteit vroeër vanjaar het 'n verwoestende brand in die Enkanini-gebied veroorsaak en was die munisipaliteit genoodsaak om in te tree.
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, amptenare en wyksraadslid Elias Dayimani, asook speaker Andrew Stroebel het op 11 Oktober die gemeenskap van Enkanini in die Anna Lupinisaal in Kwanokuthula ontmoet. Die elektrifisering van Enkanini is bespreek en aan inwoners verduidelik.
Die munisipaliteit het terugvoer aan die gemeenskap oor die aanstelling van 'n diensverskaffer en kontrakteur gegee. Prosesse wat gevolg moet word is ook verduidelik.
Opmetings is reeds gedoen en die ontwerp en uitleg goedgekeur. 63 Strukture sal elektrisiteit aansluitings ontvang en vooraf betaalmeters, verdeelborde en terreinbeligting sal ook aangebring word.
Die voltooiing van die projek word vir 14 Desember vanjaar beoog.
Enige afwyking aan die program sal aan die gemeenskap deur die munisipalitei gekommunikeer word.
'Ons bring jou die nuutste Riversal, Hessequa nuus'