HEIDELBERG NUUS - "Ek gaan my pa baie mis," sê Marcel Marais, die seun van James Petersen (57) beter bekend as Biza, wat Saterdag 8 Oktober by Outeniquapark dood is.
Marais was die skrumskakel van Heidelberg wat in die Superliga A eindronde teen Crusaders gespeel het.
Hy is kort na die einde van die wedstryd deur familielede oor die onverwagse afsterwe van sy pa ingelig.
Kort voor die einde van die wedstryd is Marais met 'n plaasvervanger vervang, maar hy is eers oor die hartseer nuus ingelig nadat die eindfluitjie geblaas het.
Hartseer tonele het hulle daarna vroegaand aan die noordekant langs die hoofpawiljoen afgespeel. Ondersteuners van Heidelberg het 'n bewoë Marais getroos terwyl hy in die ambulans geklim het wat sy oorlede pa weggeneem het.
Marais het Dinsdag aan Suid-Kaap Forum gesê hy wou net wegkom by die stadion. Sy pa se dood was 'n baie groot skok vir hom en hy het dit glad nie verwag nie. Volgens Marais was sy pa op sy dag self 'n kranige rugbyspeler en ook 'n groot ondersteuner van Heidelberg.
"Hy het moeite gedoen om my wedstryde by te woon - selfs as ons op toer gegaan het."
Hy het sy pa as 'n stil man beskryf, maar hy het tog daarvan gehou om veral oor rugby te gesels. "Ons was baie naby mekaar. Veral die laaste tyd toe hy siek was."
Die begrafnisdiens vind Saterdagoggend om 09:00 vanaf die huis in Barlowlaan en 10:00 vanuit die JF Neumann Memorial Congregational Church plaas.
Benewens Marcel, laat hy sy dogter, Monita Marais, vier kleinkinders asook twee broers en twee susters agter.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisiebeamptes aan diens by die wedstryd, is net voor 18:00 na die toneel op die pawiljoen ontbied.
Daar is hulle ingelig dat 'n bejaarde man op die pawiljoen inmekaargesak en van 'n muur waarop hy gesit het, geval het. Hy is later deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar. Hy het vermoedelik aan 'n hartaanval gesterf.
Furnell Pretorius, kaptein van Heidelberg, het Maandag gesê die voorval het die span hard geslaan. "Ons span en die gemeenskap is hard geruk."
Volgens hom is Marcel 'n ervare speler en een van die span se steunpilare. Petersen was 'n groot ondersteuner van Heidelberg.
Kevin van Wyk, president van Crusaders, het namens die klub medelye met die familie van die oorledene betuig. Hy en ander klublede het na die wedstryd die kleedkamer van Heidelberg besoek om die span sterkte toe te wens.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het gesê hy was Maandag in kontak met die familie van die oorledene. Hy het namens die unie medelye en innige simpatie aan hulle oorgedra. Hy is van plan om Saterdag die begrafnis by te woon. Brinkhuis het gesê dit was 'n ongelukkige voorval. Hy is tydens die wedstryd daaroor ingelig.
Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad, het ook simpatie met die familie van die oorledene en die breër rugbygemeenskap van Hessequa betuig.
Die liggaam van James Petersen word Saterdagaand weggeneem by Outeniquapark. Sy seun Marcel Marais is saam in die ambulans. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'