RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal Amateur Toneel- en Musiekvereniging (Ratem) bied sy jaarlikse eisteddfod in Riversdal van 28 tot 31 Augustus aan.
Die organiseerders verwag meer as 3 000 deelnemers van so ver as Montagu en ook uit dorpe in die Tuinroete soos Mosselbaai wat aan onderskeidelik drama, musiek, dans, kuns en skryfkuns gaan deelneem.
Professionele beoordelaars vanoor die Wes-Kaap gaan die items wat aangebied word takseer.
Hessequa-inwoners word uitgenooi om die eisteddfod te ondersteun.
Die afdeling vir musiek sal in die Riversdal-burgersentrum aangebied word. Drama sal by die skoolsale van Laerskool Volschenk en Hoërskool Langenhoven gehou word terwyl die dansitems in die kerksaal van NG Kerk Riversdal-Wes sal plaasvind.
Toegangsgelde by alle lokale is slegs R15 per dag en R20 per persoon vir die spreekkore en kore.
Van die hoogtepunte van die eisteddfod sluit kunswerke in wat in alle lokale uitgestal sal word, die spreekkoredag op Woensdag 30 Augustus by Laerskool Volschenk, asook die kooraande op Dinsdag 29 Augustus en Woensdag 30 Augustus in die Riversdal-burgersentrum.
Kontak Marianne Streicher by 082 441 3026 vir enige navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’