RIVERSDAL NUUS - Vinnige en effektiewe optrede deur DROOM het tot gevolg gehad dat die verspreiding van Covid-19 by die Ou Meule-tehuis in Riversdal voorkom is.
Chris Veldsman, uitvoerende bestuurder van DROOM het Woensdagmiddag, 9 September bevestig dat 'n inwoner dieselfde oggend positief getoets is. Noodmaatreëls soos deur die rampbestuursregulasies rondom die pandemie bepaal is onmiddellik in werking gestel. Hy het gesê die pasiënt is gehospitaliseer en die tehuis is ontsmet.
"Die situasie is onder beheer en ons is positief dat risikobestuur die verspreiding gestop het," het Veldsman Dinsdag, 15 September gesê.
Die hele tehuis se inwoners en personeel is met onmiddellike effek onder isolasie geplaas en personeel wat op die dag met vakansie was, is teruggeroep om die plekke van personeel wat onder isolasie is, te vul.
Die verpleegpersoneel wat kort voor en ten tye van die Covid-19-identifikasie in Ou Meule-tehuis gewerk het, is op verpligte self-isolasie geplaas. Veldsman het verduidelik dat slegs een persoon van Feedem by die woonstelle toegelaat is vir skoonmaak- en wasgoeddienste. Die persoon mag onder geen omstandighede skoonmaakdienste in die tehuis self verrig nie. "Die skoonmakers binne die tehuis mag op hul beurt weer nie die woonstelarea betree nie."
Inwoners van die tehuis mag tot verdere kennisgewing nie die tehuis vir besoeke en besigheid verlaat nie en noodgevalle sal op meriete hanteer word. "Inwoners van die huur- en leefregwoonstelle sal toegelaat word om vir 'n minimum tydperk te gaan kuier, doktorsafsprake na te kom en noodsaaklike bankdienste te gaan doen," sê Veldsman.
Hy het bygevoeg dat dit nie nou die tyd is vir verwyte en negatiewe houdings nie. "DROOM het nou meer as ooit u ondersteuning en gebede nodig," het hy die gemeenskap versoek.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'