Update
RIVERSDAL NUUS - Die aantal oorgewig en vetsugtige (obese) mense in die land het die afgelope klompie jare dramaties toegeneem.
"Op die oomblik is 68% vroue en 31% mans oorgewig, en 20% vroue en 3% mans is vetsugtig. Altesaam 13,3% kinders jonger as vyf is oorgewig of vetsugtig, terwyl 14,2% tieners tussen die ouderdom van 6 en 14 oorgewig is of aan vetsug ly," sê Nadia Ferreira, woordvoerder vir die Wes-Kaap gesondheidsdepartement.
Die grootste sondebokke wat hiertoe bydra is die inname van oorgeprosesseerde voedsel en onaktiwiteit.
Oorgeproseseerde kos sluit kos in wat nie meer naastenby ooreenkom met die oorspronklike vars produk nie, want dis verwerk en middels is bygevoeg.
Soetgoed
Dit sluit soet-, bruis- en energiedrankies, versoete en gegeurde melk, versoete en gegeurde jogurt, versoete kakaodrankies, versoete vrugtesap, soet- of southappies, roomys, sjokolade, lekkers, energiestafies en soetgebak (pastries) in.
Voorafbereide geregte
Dit sluit gereed om te eet pasteie, pasta- en pizzageregte, hoender- en visballetjies en -vingers in.
Geproseseerde produkte
Hierdie groep sluit worsies, burgers, hotdogs, polonie en kouevleis, kitsnoedels en kitsnageregte in.
Verfynde produkte
Dit sluit massavervaardigde en voorafverpakte brood en rolletjies, koek, koekies en terte, kitsmengsels vir koek en dies meer, koekmeel, graankos met of sonder suiker, witbrood, wit pasta en witrys in. Dit sluit ook margarien en ander toebroodjiesmere, vleisekstrak, soppoeier en kitssouse in.
Babakos
Formule, babapap en gegeurde, versoete ingemaakte produkte.
Ander produkte
Gesondheids- en verslankingsprodukte.
Hoekom is dit nie goed vir jou nie?
Hierdie produkte dra by tot oorgewig en vetsug omdat dit ekstra sout, suiker en stysel bevat wat, indien groot hoeveelhede verorber word, kan lei tot oormatige inname van koolhidrate, maar nie voedingstowwe nie.
Dit dra tot gewigstoename by.
Te veel sout in 'n dieet gaan gepaard met hipertensie en kardiovaskulêre siektes soos beroerte. Dit lei ook tot diabetes, hartsiektes en borskanker. Navorsing het getoon dat selfs een porsie hoogsgeprosesseerde kos 'n dag die risiko van hierdie siektes met 18% kan verhoog.
Die vraag is hoekom so baie van hierdie ongesonde kos dan op die rakke is. Die antwoord lê daarin dat baie mense 'n gejaagde leefstyl met min tyd om gesonde maaltye voor te berei volg. Dit is immers baie geriefliker om 'n voorafbereide ete in die mikrogolfoond op te warm en binne 'n paar minute 'n maaltyd vir jou honger gesin op die tafel te sit.
Goedkoper of duurder?
Al lyk dit op die oog af of kitsetes help om die begroting te laat klop, is dit bewys dat die gebruik van gesonde, natuurlike produkte tog goedkoper en gesonder is en 'n mens betaal nie vir die verwerking en verpakking nie.
Lees verwante artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'