STILBAAI NUUS - 'n Wapenstilstand is 'n formele ooreenkoms tussen strydende partye om gevegte te staak en word gewoonlik uitgeroep terwyl 'n poging aangewend word om blywende vrede te onderhandel.
Een van die bekendste wapenstilstande in die wêreld is die verdrag wat op 11 November 1918 met Duitsland gesluit is. Dit het 'n einde aan die Eerste Wêreldoorlog gebring. Dié dag word vandag nog wêreldwyd herdenk, ook in Suid-Afrika en word dit aan soldate opgedra wat in alle konflikte hulle lewens verloor het.
Die Veterane Vereniging van Stilbaai het Sondag, 14 November 'n kransleggingseremonie by die gedenkteken gehou wat wat by Stilbaai-skietbaan opgerig is.
Volgens die organiseerder, Richard Webb is dit in Stilbaai ter ere van alle uniformdraers wat hulle lewens in diens verloor het.
Belangstellendes het van vroeg reeds gekom om hulle eer te betoon. Die seremonie is presies om 11:00 met 11 klokslae ingelui.
Daarna is die vlag tot halfmas laat sak, terwyl die laaste taptoe gespeel is. 'n Minuut van stilte is gehandhaaf en ds Callie Matthee het met gebed geopen.
Gaste het een vir een die geleentheid gekry om 'n krans te lê of 'n kruis neer te sit, sommiges namens 'n organisasie soos byvoorbeeld die Pantserskool of die Infanterie.
Die NSRI het ook hulle eer betoon en spesifieke operasies, soos Operasie Savanna herdenk.
'n Gewyde stilte het geheers terwyl mense, baie onbekend aan mekaar, byeengekom met die gesamentlike doel om uniformdraers te herdenk wat oor baie jare hulle lewens gegee het om ons veiligheid te verseker.
Die gedenkteken by Stilbaai-skietklub.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'