STILBAAI NUUS - Wat is die nut om twee aparte organisasies in 'n dorp te hê wat dieselfde basiese doelstellings nastreef?
Stilbaai Belangeforum en die Inwonersvereniging van Stilbaai-Oos het daarom saamgesmelt om beter diens te lewer aan die gemeenskap.
Bestuurslede van Stilbaai-Oos het die bestuursvergaderings van die Belangeforum bygewoon in 2023 om die wenslikheid van samesmelting deur te trap en dit is dus nie 'n besluit wat op die ingewing van die oomblik gemaak is nie.
Vanweë die beoogde samesmelting is heelwat aandag gegee aan die formulering van die visie, bestaansrede en doelstellings van die verenigde organisasie en die wenslikheid om die grondwet van die Belangeforum dienooreenkomstig aan te pas.
Om dit te finaliseer moes die Inwonersvereniging ontbind op 18 Desember 2023 tydens die laaste Algemene Jaarvergadering van daardie organisasie.
Op 16 Februarie 2024 is die samesmelting gefinaliseer en geformuleer tydens die Belangeforum se Algemene Jaarvergadering.
Daar is besluit dat die bestuurskomitee van die verenigde organisasie altyd sal bestaan uit lede waarvan minstens drie, inwoners van Stilbaai-Oos is of eiendom daar besit en waarvan minstens drie, inwoners van Stilbaai-Wes is of eiendom daar besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’