HESSEQUA NUUS - Die Eden-sportraad het R3 150 000 van die departement van kultuursake en sport ontvang.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het Donderdag 25 April die tjek aan die 35 sportfederasies van die Eden-sportraad oorhandig.
Dit is aansienlik meer as 2018/19 se R2 095 000 en is geoormerk vir administrasie, ontwikkeling, transformasie, kapasiteitsbou en die aanbieding van byeenkomste op alle vlakke.
Marais was vol lof vir die wyse waarop Eden-sportraad onder voorsitterskap van Desmond Speelman bestuur word. Die sportraad het onder meer 'n 100% rapportering by die tri-laterale vergadering gehad, al 35 sportfederasies was teenwoordig om hulle toekennings te ontvang, en die sportraad se geaffilieerde federasies spog met die beste transformasie-indeks in die Wes-Kaap.
Volgens dr. Lyndon Bouah, hoofdirekteur van die departement se sportafdeling, het Eden naas Kaapstad die meeste topbyeenkomste aangebied, wat 'n groot finansiële inspuiting vir die distrik is. Altesaam 37 interdistrikte en provinsiale, 12 nasionale en ses internasionale byeenkomste, met 'n ekonomiese waarde van R250 000 000 vir die Eden-sportdistrik, word vir 2019/20 beplan.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'