Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die vissergemeenskap van die dorp is ontsteld nadat die helling (slipway) wat hulle gebruik om hul bote in die water te kry, blykbaar sonder enige kennisgewing opgebreek is.
Emile Steyl wat 'n lynreghouer is, is een van die wat nou tydens kabeljoutyd nie sy boot in die water kan kry nie.
Volgens hom beskadig die ander helling die skuite en bote wanneer hulle dit vandaar in die water laat.
"Die helling wat hulle vir ons beskikbaar gestel het, is glad nie vir ons bote geskik nie. Nêrens is 'n kennisgewing opgesit, uitgestuur of vergadering geroep om ten minste 'n oplossing te bespreek nie," het hy gesê. Meeste vissers is van die see afhanklik en sou verkies dat dié herstelwerk of opgradering buite 'n visseisoen soos kabeljoutyd gedoen word.
As gevolg van dié proses het hulle groot verlies aan inkomste. Bote staan 'droog', soos hulle dit noem.
Volgens Steyl kon selfs die NSRI onlangs tydens 'n noodgeval 'n ander plan beraam om in die water te kom. Hulle het blykbaar die Donderdag nog 'n oefening gehad en die volgende oggend was die helling opgebreek.
Suid-Kaap Forum is in die proses om die betrokke departemente en partye te kontak en die saak te ondersoek.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'