Update
HESSEQUA NUUS - Die gru-ongeluk Dinsdag 9 Augustus om ongeveer 07:15 op die N2 naby die Stilbaai-afdraai laat nie slegs 'n groot leemte in skoolkringe nie, maar ook in sportgeledere.
Twee van die oorledenes was by skole betrokke: Jacobus (Koos) Tarantal (52) was die skoolhoof van Oker Primêr in Albertinia en Wouter Verwey (55) was 'n rugbyafrigter by Despatch-rugbyklub, asook hul plaaslike hoërskool.
Rudi Koertzen was 'n wêreldbekende voormalige kriekettoetsskeidsregter. Die 73-jarige Koertzen het in meer as 100 toetse en 200 eendagtoetse gestaan.
Volgens inligting verskaf deur Riversdal-polisie se woordvoerder, sers. Christiaan Jansen, is die bestuurder van die SNV waarin Koertzen en Verwey passasiers was, Justus de Wet, op die toneel vir sy beserings behandel voor hy per helikopter na Mediclinic George geneem is. Die aard van sy beserings is onbekend.
"Die omstandighede wat die ongeluk veroorsaak het is nie bekend nie, maar word ondersoek," het Jansen gesê.
Jacobus Tarantal
Koertzen en die ander insittendes van die SNV was na bewering vanaf Kaapstad op pad huis toe in Despatch. Koertzen se seun, Rudi Koertzen jr. het aan 'n radiostasie in Gqeberha (Port Elizabeth) gesê dat sy pa en 'n paar vriende na 'n gholftoernooi gegaan het, maar veronderstel was om reeds Maandag terug huis toe te keer.
Koertzen word deur sommige sport-kenners as een van Suid-Afrika se beste internasionale skeidsregters beskryf. Hy het in 1981 vir die eerste keer as skeidsregter opgetree en ongeveer 11 jaar later sy eerste internasionale opdrag behartig. Hy het in 2010, na 'n toets tussen Australië en Pakistan in Engeland uitgetree.
Huldeblyke het van oor die wêreld, nasionaal en ook plaaslik op sosiale media ingestroom.
Op Oker Primêr se Facebook-blad het die skool hul skok en hartseer uitgespreek. "Oker-familie, dis met groot hartseer dat ons die nuus van ons geliefde hoof se heengaan aan julle moet meedeel. Ons harte gaan uit aan mnr. Tarantal se familie."
Wouter Verwey
Ook op Hoërskool Despatch se Facebook-blad was 'n soortgelyke inskrywing: "Dit is met leedwese dat ons vanoggend verneem het dat Wouter Verwey en Rudi Koertzen in 'n motorongeluk oorlede is.
"Ons bid dat beide se gesinne en families in hierdie tyd op 'n besondere wyse die Here se krag en bystand sal ervaar. Daar word 'n groot leemte agtergelaat in die harte van ons dorp se mense."
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Rudi Koertzen. Foto's: Facebook
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'