HEIDELBERG NUUS - Die egpaar wat Sondagaand 15 Maart in 'n botsing reg van voor op die N2 gesterf het, was albei van die Suid-Kaap.
Jurich Roberts (33) van Heidelberg en sy vrou, Glenecia, van George se voertuig het omstreeks 22:00 by die afdraai na Karringmelksrivier sowat 20 km buite die dorp reg van voor met Sicelo Mbekela (44) se voertuig gebots. Hy het ook omgekom.
Die egpaar was van George af op pad huis toe in Gordonsbaai. Hul tweejarige seuntjie Luke is in Riversdal-hospitaal opgeneem. Hy is later na George-hospitaal oorgeplaas om nader aan sy oupa en ouma Glenville en Gayleen Tobias te wees. Sy toestand is ernstig, maar stabiel, het Gayleen gesê.
Geen besonderhede is oor Mbekela, wat alleen in die voertuig was, bekend nie. Volgens die polisie het hy klaarblyklik beheer oor sy Toyota Tazz verloor en voor die egpaar se VW Polo in die aankomende baan beland.
Volgens Gayleen het die egpaar die naweek op George gekuier om haar verjaarsdag en die inseëning van haar kleindogter Leah te vier. "Hulle was die naweek uitsonderlik opgewek, hulle was net amazing," het sy hartseer gesê.
Op pad terug het hulle ook eers in Heidelberg aangegaan om die familie te groet. "Ons was bekommerd dat hulle so laat vertrek het, maar Jurich het gesê dis nie só ver Kaapstad toe nie," het sy suster Jomene de Koker gesê. "'n Mens het nooit my broer sonder 'n glimlag gesien nie..." onthou sy.
Jurich wat hier grootgeword het, het aan PW Botha Kollege (nou Eden Hoër Tegnies) matrikuleer. Na skool het hy vir Heidelberg-rugbyklub gespeel. Ten tyde van sy dood was hy by Overberg-distriksmunisipaliteit werksaam.
Glenecia wat as prokureur op Beaufort-Wes gewerk het, het die afgelpe ses maande uit haar huis gepraktiseer.
Jurich word oorleef deur sy ma Charlene en pa Davy, susters Jomene de Koker en Chantal Riddles en broer Deveroh. Glenecia word oorleef deur haar ouers, broer Glenton en suster Psalm.
Die begrafnis sal op 28 Maart in George plaasvind. ’n Gedenkdiens is Woensdagaand 18 Maart vir die egpaar in George by Eagles Nest Ministries International gehou.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'