STILBAAI NUUS - Dié kusdorp bied Saterdag 23 September sy eerste Hessequa Heritage-fees aan, waarvan ‘n 16 km-veldwedloop langs die kus vanaf Jongensfontein tot by Stilbaai, asook die Brood- en Beskuitfees wat by die eindpunt aangebied word, twee van die hoogtepunte sal wees.
Stilbaai, Jongensfontein en die omgewing beskik oor heelwat geskiedkundige en interessante plekke en selfs oor nasionale erfenismonumente.
Die roetes van beide die korter 5 km-hardloopren en die meer uitdagende 16 km-roete sal hardlopers en stappers by sommige van dié plekke verby neem.
Die roete sal deelnemers by onder meer die geskiedkundige visvywers verby laat gaan, asook by die Wafra-tok (visserskuit) by die hawe met die historiese skulpkombuis nie ver daarvandaan nie.
Hulle sal bederf word met asemrowende natuurtonele en uitsigte oor die oseaan, die strande en die rivier terwyl hulle van Stilbaai en Jongensfontein se oudste vakansiehuisies sal kan sien.
Die sementvoetpaadjie langs die Goukourivier en langs die varswaterstroom sal hulle tot by die toerismeburo neem waar die feestelikhede van die Brood- en Beskuitfees op hulle wag.
Kontak Johannie Vermeulen by 028 754 1655/082 333 1810 vir inligting oor die stalletjies en vir Elza Thiart-Botes by 082 458 8517.
Vir inligting oor die veldwedloop gaan na Facebook (Hessequa Heritage Festival).
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'