Gallery Update
SLANGRIVIER NUUS - Inwoners het Vrydag 18 Mei 'n dankseggingsdiens in die plaaslike gemeenskapsaal gehou om die dorp se 180ste bestaansjaar te vier.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, was die gasspreker. Die verwelkoming is deur Denodien Rossouw, sekretaris, behartig terwyl Sadie Botha, gemeenskapsaktivis die bedankings gedoen het.
Die Awareness Action Group onder leiding van die voorsitter, Samuel Fortuin, het die inisiatief geneem om veral die jeugdiges bewus te maak van hul herkoms en kultuur. Groot eer en lof is aan die dorp se 20 voorvaders en hul afstammelinge toegeswaai.
Lede van die plaaslike River Valley senior burgerklub, asook 20 leerders van Slangrivier Primêr en kleuters van Groenie die Drakie-kleuterskool het die verrigtinge bygewoon. Die laerskoolleerders het elkeen 'n kers gehad wat die 20 stamme/voorvaders simboliseer. Die senior burgers het die kerse op die verjaarsdagkoek aangesteek.
Riddles het tydens sy toespraak gesê dat hulle nie hul herkoms moet vergeet nie. Hy het hulle ook uitgedaag om uit te gaan en 'n verskil te maak. "Dit is belangrik vir ons kinders om hul kultuur te erken en te beoefen soos deur ons voorouers aan ons voorgehou." Volgens hom is dit belangrik om weer die kultuur te kweek van 'jou kind is my kind'.
Hy het afgesluit met die nuus dat die werk teen Januarie volgende jaar sal begin om die 500-sitplek paviljoen by die sportterrein te voltooi.
Van die rolspelers wat die dankseggingsdiens bygewoon het, is agter, van links: Zelda Pieters, Maryka Hoogbaard, Samuel Fortuin, Elsie Hendricks, Grant Riddles, Sadie Botha en Desiree Jansen. Voor: Hester Hoogbaard, Elizabeth Hopp, Fransolien Esau en Denodien Rossouw. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Dorp vier byna twee eeue
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'