STILBAAI NUUS - Groot getalle pienk jellievisse het die afgelope drie weke op dié dorp se strande en die rivieroewer uitgespoel.
Die verskynsel het sommige inwoners laat vrae vra, want daar is opvallend baie van die diertjies.
Volgens Jean du Plessis van CapeNature is dit nie so ongewoon nie: "Wanneer die wind en seestrome op die regte manier saamwerk, strand jellievisse met hooggety aan die Wes-Kaapse kus."
Hy sê dis nie seisoenaal nie en ook nie van enige ander toestande in die water of omgewing afhanklik nie. Hy gee egter toe dat hulle hierdie keer besonder baie is: "Ek dink nie ek het al so baie van hulle sien uitspoel nie."
Hy reken opruiming sal nie nodig wees nie, want die dooie diere sal vinnig uitdroog en met die gety weer verdwyn.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'