STILBAAI NUUS - Die tweede 'Christmas in July' vanaf 17 tot 21 Julie op dié kusdorpie was 'n reuse sukses, na aanleiding van die groot aantal inwoners en vakansiegangers wat daagliks opgedaag het om deel aan die verrrigtinge te hê.
Die geleentheid is 'n gemeenskapsprojek, natuurlik in samewerking met besighede en ander organisasies. Van die lekker dinge op die program het ingesluit 'n pannekoek-en-port aand ten bate van Stilbaai Toerismeburo,
'n straatmark ten bate van die dorp, wynproe, nagemaakte sneeu wat met tye geval het tot groot vermaak van die kinders (en sommige volwassenes) en lekker musiek om sake op 'n vrolike noot te hou.
"Ons is baie opgewonde, want die weer het heerlik saamgespeel en het dit nie soos verlede jaar gereën nie.
Uit die 38 stalletjies wat bespreek het, het slegs twee nie opgedaag nie en die atmosfeer was net fantasties," het Johannie Vermeulen wat saam met vele ander agter die skerms gewerk het, tydens die geleentheid aan Suid-Kaap Forum gesê.
"Van die mense op die ellelange bedankingslys sluit onder meer in Henry Hansen en sy span vir musiek en klank, Linda en Tommie vir die liggies, George Sabaggah wat Kersvader was, Peet van Staden van Spar vir geskenkies aan die kinders, Elza Thiart-Botes wat die sosiale media boffin is en my vennoot, Adolf Botes wat saam met my 'buitengewone planne' maak en dit help uitvoer.
Die lys is te lank om op te noem, maar elkeen wat 'n bydrae gelewer het kan verseker weet dat ons dit waardeer."
Lees 'n vorige artikel hier: Kersfees in Julie op Stilbaai
ARTIKEL & FOTO'S: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuuste Stilbaai, Hessequa nuus'