STILBAAI NUUS - Kasselshoop se kaas het die toekenning vir die beste stalletjie by vanjaar se Suid-Afrikaanse kaasfees gewen.
Hul stalletjie se tema was 'The whey forward'. "Die droogte het ons geleer om uiters spaarsamig met ons hulpbronne te werk," verduidelik Liesel Kasselman, mede-eienaar.
"Daarom gebruik ons al die fabriek se waswater as besproeïngswater. Dié water word eers deur 'n spaansrietbos se wortels gesuiwer. Die miswater word gebruik vir bemesting. Wei, 'n neweproduk van die kaasmaakproses, word as byvoeding vir droë koeie gegee." Debbie Schäfer, Wes-Kaap minister van ekonomiese geleenthede, was die eerste persoon wat The whey forward-belofte vir 21 dae gemaak het. Sy onderneem om saam met Kasselshoop die natuurlike hulpbronne te bewaar.
Gebruikte bokse word vir die plaaskinders gegee en hulle word gewys hoe om dit in kuns te omskep. Om die voetspoor verder te verminder maak hulle sakke van ander afvalmateriaal. Hulle herwin plastiek deur plastieksakke te smelt om voerbakke mee te maak. Indien jy ook die The whey forward pledge' wil doen, besoek die webstuiste by www.thewheyforward.org.
Die Kasselshoopspan by hul stalletjie met die trofee en toekenning. Van links is Peter Kistoor, Pieter Franklin, Nicolette Franklin, Liesel Kasselman, Riaan Theunissen, Alison Esau, Hilton Michaels en Mercia Francies.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'